Gerbrand – November 2015

Hier volg ‘n kort memoir van my trip na Moz saam Kaptein Lee:

Woensdag 11 November

 06:00

Ek staan op, want Kaptein Lee het besluit dat, ten spyte van die feit dat ons eers 11:30 vlieg, ons reeds om 08:00 op OR Tambo moet wees. Ek vra nie vrae nie, ek staan op.

07:30

Spring op die Gautrein met 2 semi-leë sakke nadat ek opdrag gekry het om genoeg pakplek oor te hou en dat my sak nie meer as 14kg mag weeg nie. Jaap het planne vir die ekstra gewig… Ek voel nervous, want ek het gehoor wat gebeur met mense wat met drugs gevang word op OR Tambo, maar ek troos myself: ek vlieg saam met Kaptein Lee, en Kaptein Lee kry nooit kak nie.

08:00

Ek sit in die Spur by OR Tambo. Jaap is nerens te vinde nie. Hy is laat, en ek sit soos kiepie en drink ‘n late, want hulle bedien nog nie bier nie.

08:45

Ek kry uiteindelik vir Jaap. Ons ontmoet mekaar skelm agter ‘n hoekie in ‘n systraat by OR Tambo, want Jaap het 10 kg tjops, steak en hoender om in my sak te laai. Ja, dit gaan deur die grens, en ja, Jaap het ‘n “genuinely faked” permit daarvoor. Moenie vrae vra nie.

09:30

Ons is ingeboek en sit in die Slow Lounge. Hulle bedien nog nie bier nie. Die yskas met die bier is gesluit (ek het seker gemaak). Hulle bedien eers 10:00 bier. Ons moet 10:30 loop om te board. Dis lastig.

10:00

Die yskas maak oop. Nuff said…

11:30

Ons taxi na die aanloopbaan om op te styg. Jaap kyk die details van die vliegtuig op in die boekie wat hy voor uitgrawe. Dit is ‘n 84 seater, ek word ingelig dat dêêêêstyds, toenterjare toe hulle begin Vilanculos toe vlieg het, het hulle basies met ‘n Cessna 4 seater gevlieg, maar Mozambiek se ekonomie loop, pappas, hy lôôp. Ek like dit, dis wat ek wil hoor as ek geld belê: hy moet lôôp.

13:10

Ons land in Vilanculos en klap ‘n toon na die arrivals toe. Vilanculos het nie ‘n groot lughawe nie, en die bliksems wat ons paspoorte check het net een f@kken stamp, ek sweet, dit is warm, maar daar is ook 10kg “wettige” vleis in my sak.

13:30

Uiteindelik is ons verby die werfetters met net een stamp, en nou kom die scanner by Traveller Declarations. Ek sweet, maar Jaap Lee is heel voor met sy “permit”, en hy ken ook ‘n man. Hy’t ‘n man op die vloer as’t ware…

Gevolglik voer ons 5 minute later wettiglik 15kg steak, 2 blikkies mielies en ‘n botteltjie Spur Chillie sous na Mozambiek toe in: “agricultural goods”. That’s how you do it…

14:00

Ons koop bietjie proviant vir die naweek by ‘n cafe in Vilanculos. Om te boer maak mens dors, en dis warm. Die man wat ons kom oplaai het met die bakkie het ‘n engel ingepak wat ons bier kan koud hou. What a boytjie!

17:00

Ons draai uiteindelik van die teerpad af oppad na die plaas, dis nog so 10km grondpad. Ek bekyk die omgewing, die plantegroei is moer baie soos die bosveld in Limpopo in SA. Kremetartbome, knoppiesdoring, the works. Langs die pad is dit ruig by plekke, maar die veld lyk, na my expert mening, great vir beeste – die plantegroei is baie groener as in SA – lyk belowend!

17:30

Ons ry die plaas in:

“Embondeiro” sê die bordjie.

“Dit beteken kremetart”, sê Jaap.

“Bef@k”, sê ek.

Moerse netjiese krale staan aan ons regterkant gemaak uit pale wat hulle sommer op die plaas “oes”, en sover ons ry is kampe gespan. Lyk soos ‘n propperse plaas moet lyk (in my expert opinie, natuurlik). By die “main complex” aangekom is ek moerse impressed, daar staan ‘n k@khuis vol sonpanele en batterye, asook een moerse satelietskottel! Kyk, hierdie is in die middel van nêrens, maar eks ook nie verras nie, ‘n Lee wil nie sukkel nie.

Ons ontmoet die voorman, Piet. Seker al naby 50, lyk na ‘n nice ou! In die huisie self is daar seker 5 ys / vrieskaste – Piet moet sy vleis vir lank kan koudhou… Eks net f@kken bly ons het ‘n plek om ons ys te bêre… En daars f@kken WiFi! Nou kan ek darem nog k@k praat met ander mense as ek gatvol raak vir Jaap se randomness… Dankie f@kken tog…

Plekkie is moerse nice ingerig met ‘n groot stoep en ‘n lekker braai area. Ons pak af, en Jaap wys my waar ons gaan slaap. En ja, daar’s ‘n aircon. Mens kan nie die aircon van die batterye af hardloop nie, want hy sal dit doodtrek, maar kyk, ‘n Lee kry nie warm in die aand nie, ons start vannaand die f@kken generator…

Formaliteite afgehandel besluit ons om ‘n biertjie oop te maak… Eerste een vir die naweek. Cheers!

Donderdag 12 November

05:45

Ons staan op. Jaap om te bewys mens slaap nie laat as jy op hierdie plaas is nie, ek om te bewys ek staan nie f@kken terug vir ‘n Lee nie. Vandag gaan ons nuwe kampe op Micaia “peil”, verduidelik Jaap. Dit is nou die plaas onder Embondeiro waar hulle ook grond het.

07:00

Klaar geskrop en gebreakfast. Ons trek ‘n paar strepe op die software op die laptop, en Jaap tik die koordinate op die GPS in. Ek pak ‘n lagpakkie vir die dors na die gepeilery.

07:45

Ons val in die pad. Ager op die bakkie is 3 manne, 30 houtpenne, ‘n hamer en ‘n lagkas. Jaap wys my eers gou die kerkie en die skooltjie wat hulle vir die “village” gebou het. Moerse smart! Hulle het ook daar ‘n boorgat geboor – voor dit moes die vrouens 20km elke dag loop net vir water! Almal in die village is baie vriendelik, omtrent 40 van hulle mense werk op die plaas, en nou het hulle ‘n skooltjie, ‘n kerkie, ‘n boorgat en ‘n vaste inkomste!

08:30

Ons begin stap, die stap is nie vêr nie, maar dit is bosveld, pappas. Ons volg die GPS, en slaan so elke 100m ‘n houtpen in die grond. Jaap verduidelik dat dit vir die TLB is – die TLB volg die penne, en maak skoon. Dan kom die draadtrek span agterna, plant die stutpale en span die kampe. Kyk, ek sê weer, dis nie moerse vêr nie, en dis nog nie moerse laat nie, maar dis moerse warm! Ek loop en drink my water. Jaap verduidelik vir my ek maak ‘n fout: mens drink nie f@kken water terwyl jy oefen nie – dan bederf jy jou lyf en dan moet jy heeltyd water drink. Klink legit.

09:45

Jaap wys my die kraal by  Micaia waar ‘n klomp van die osse kom water drink. Daar is ‘n boorgat met ‘n sonpomp. Orals kap die manne latte vir draadspan – die plaas brei uit! Na my expert opinie lyk die osse mooi, rond en gesond

10:00

Klaar gestap. Dis 10:00 – die yskas maak oop.

Jaap wys my die deel van die plaas wat hy wil oorkoop vir Mozgado. 7000 ha! Dis reg langs Embondeiro, en die plantegroei lyk mooi! Ons wil dit by ‘n Duitser oorkoop, die ou moet net vir ‘n slag ophou bolle rol en sy gat in rat kry.

17:00

Terug op die plaas na ons die wêreld plat gery het. Piet se “vriendin” het ook kom kuier, en ons gooi maar ‘n brannas en kuier om die kampvuur. Lekke tye!

Vrydag 13 November

 06:00

Ja, mens slaap nie laat op hierdie f@kken plaas nie. Vandag gaan ons weer peil, maar diekeer op Embondeiro. Ek voel al soos ‘n ekspert, en kom niks oor van te veel water terwyl ek stap nie. Water en stap doen mens goed in die oggend.

10:00-24:00

Klaar gepeil, Dis 10:00 – die yskas maak oop. Terug by die kamp lol die WiFi en ‘n koei is siek, ‘n boer maak ‘n plan op die plaas, gee my 3 handlangers en ek doen dit alleen.

Klaar gewerk is dit maar tyd vir ‘n wizza om die vuur. Lekke tye!

Saterdag 14 November

06:00

Ja, ons gaan vandag Inhassoro toe, maar dis eers tyd vir ‘n laaste peil sessie. Op die plaas vat ons nie af nie, pappas, ons f@kken werk.

10:00

Klaar gepeil. Dis 10:00 – die yskas maak oop.

Ons pak ‘n paar kanne vir diesel saam met die immerbelangrike pretpakkie, en val in die pad Inhassorro toe. Good times lie ahead!

12:00

Klaar ingecheck by Blue Anchor Inn, met ‘n moerse nice see uitsig en aircon sonder die requirement van ‘n generator. Nou is dit tyd om die dorp rooi te verf. Kyk, niks teen die Lee’s se steak nie, maar na 15kg daarvan is ‘n man f@kken gatvol. Tyd vir seekos.

12:15

Juan se Restaurant. Blykbaar die plek in Inhassoro met die beste seekos. Ons vat ‘n paar kappe by die bar en bestel hulle grootste gereg. Lekker lining.

15:00

Brassa Mar. ‘n Splinternuwe plek met ‘n “Hawaii” tema. Nice lazyboys, maar verder nie moerse impressive nie. Ons vat maar nogsteeds ‘n paar kappe.

16:00

Nog ‘n nuwe plek met ‘n moerse nice bar. Kannie sy naam lekker onthou nie. Net so bietjie tjoepstil na ons sin. Hoe verf mens ‘n plek rooi sonder musiek en mense? Ons vra of hulle die krieket wys. Hulle doen nie. Ons vat maar nog ‘n paar kappe, en f@kof.

17:00

JOHNSON’s BAAAAR!!! Yes please! Nou gaan ons laat loop! Ou Johnson het vir hom ‘n nuwe huis met ‘n MOOERSE seaview gebou, en ons is bereid om dit saam met hom te vier.

18:00

Tequila!!

19:00

Jaap gooi “dubbels” agter die bar. Johnson eet skerpioene… I’m the king of the world…

20:00

Blykbaar eet ons iets by Blue Anchor Inn… Blykbaar…

Sondag 14 November

9:00

Staan op, pak, vat die lang pad terug. My kop is seer…

Overall een MOERSE awesome belewenis en wragtag ‘n eye-opener! Daai land het soveel potensiaal, en die mense is nog oneindig dankbaar as jy die plek ontwikkel! Ek, vir een, is opgewonde oor ons belegging se potensiaal vir groei!

 

No Comments

Post a Comment