Alewyn en Philip – Maart 2016

Goeie dag Mozgado!

Vanaf 23 tot 28 Maart 2016 was Philip Vivier [Dropbox4] en Alewyn Burger [Junox251], saam met Jaap Mosambiek toe om die plaas waar ons beleggings wei te beleef. Die idee van die trip was om die hele boerdery beter te verstaan in terme van hoe alles bymekaar pas, wat die uitdagings is vir Mozgado en hoe die besigheidsplan verander het, asook om die syfers en winsgewendheid van die projek uit ‘n ander oogpunt as net Jaap s’n te assesseer.

En natuurlik ook om ‘n paar 2M’s en Manikas te gaan ontmoet terwyl ons nou daar is…

So hierdie brief dien as ‘n “verslag uit ‘n buite-oogpunt” om jou gerusstelling te gee in jou belegging in Mozgado. Ook om te probeer om in eenvoudige terme te verduidelik wat daar aan die gang is, en hoekom dit so gedoen word. Om dit te doen, hopelik sonder om jou te verveel, gaan ons net vinnig praat oor die volgende:

  • Wat is Mozgado,
  • Die oorspronklike plan vs. die nuwe plan,
  • Die uitleg van die plase/projekte en die ooreenkomste tussen hulle,
  • Hoe werk die Mozgado belegging,
  • Winsgewendheid van die Mozgado projek.

So wat is Mozgado?

Mozgado is ‘n projek wat deur Jaap geloods is om kapitaal bymekaar te maak om beeste in Mosambiek te kan aanhou, aangesien die bedryfskoste en in besonder grondkoste heelwat minder daar is en dus die winsgrens per bees meer maak in vergelyking met in SA.

Mozgado bestaan uit 10 Maatskappye, 26 individue, en 40 aandele van 2.5% elk. Die idee met Mozgado is om te bly kapitaal bydra tot ons die R5m investering bereik het (in 4jaar), waarna die projek, onafhanklik van ekstra fondse, kan selfbestaan. Elke 2.5% aandeel gaan dus R125,000 kos, wat rofweg beteken elke Mpy dra R500,000.

Mozgado is ‘n langtermyn belegging. Die visie agter dit is dat as almal saamstaan kan mens groter projekte aanpak, wat groter winsgrense kan inbring, teen ‘n laer risiko vir elke afsonderlike individu. Daarna kan elke maatskappy besluit of hulle dan in ‘n nuwe projek of in eiendom wil verder begin belê. Die voordeel is om eendag op 50 of 55 te kan sit met ‘n klomp gediversifiseerde beleggings wat passiewe inkomste inbring, sonder dat jy ooit werklik baie risiko daarvoor hoef te gedra het. Om nie eers te praat van die bates nie.

Oorspronklike plan vs. Nuwe plan

Oorspronklik was die idee dat Mozgado hulle eie plaas onderhandel, ontwikkel en dan beeste opsit.

Die probleem met die plan is dat alles ongelooflik baie tyd en logistieke admin vereis. Mens moet ingedagte hou dat dit Afrika is waarin jy beweeg, met uitgerekte onderhandelings, moeilike grensposte, crap paaie en ‘n volksvreemde taal. Alles, en ek bedoel álles moet vanaf SA ingevoer word. Elke skroef en boud en trekker en yskas en tent en bed en stukkie draad. Dit is ‘n logistieke nagmerrie, en werklik ongelooflik om te sien wat daar al op die Embondeiro plaas staan. Verder, met jou eie plaas kom jou eie plaasbestuurder, sy bakkie, jou eie trekker, sonpanele, boorgate, infrastruktuur, en so kan ek aangaan. Al die goed dra by tot ‘n klomp ekstra kostes, wat in jou wins in vreet en jou gelykbreekpunt uitskuif.

So toe kom Jaap op met die nuwe plan om 30% aandeel in die bestaande Embondeiro plaas se beeste in te koop. Embondeiro is die huidige projek wat deur die “Lee-groep” gerun word, en waarop die 144 verse van Mozgado tans wei. Embondeiro is klaar met grondonderhandelings, het al die toerusting en infrastruktuur al op die plaas, en boer al ‘n geruime tyd daar. Al die bogenoemde het hulle al omtrent 9 jaar gevat, om jou ‘n idee te gee van Afrika-tyd.

As gevolg van die afgelope jaar se droogte in SA moes Jaap se pa noodgedwonge sy beeste wat in die Vrystaat wei na Mosambiek toe skuif, waar weiding vollop is. Jaap het die geleentheid daarin gesien en sy Pa oortuig dat ons die Vrystaat beeste sal betaal en oorbring Mosambiek toe, sodat ons dan 30% van al die beeste op die plaas kan besit. Om dan van al die bestaande infrastruktuur gebruik te maak, sal ons dan ook 30% van alle direkte bedryfskoste, soos lek en spuit en voorman en lone ens., dek. Die 30% inkoop is net van toepassing op die beeste en sluit die Embondeiro-grond, en enige seggenskap daaroor, uit.

Die voordele van die “Nuwe plan” is dat ons ‘n meer streamline projek kan loods met minder schlep, minder kostes, minder admin, vinniger invloei van geld, plus ons kan op die huidige infrastruktuur piggyback, soos boorgate ens. Ons sit onmiddellik met 30% van beeste oor alle ouderdomme (nie net verse nie), en kry 30% van die aanwas. Ek sal nou in meer detail verduidelik.

 Uitleg van die Plase / Projekte en ooreenkomste tussen mekaar

Daar word so baie name rondgegooi wat mens lekker deurmekaar kan maak soos Mozgado, Embondeiro, Mikaia, Die Hunter, Alto, 2M, Manika, Cerveja ens.

Wel, 2M, Manika en Cerveja is bier. En dis bevange. Al gaan jy net vir dit, do it.

“Die Hunter” is letterlik ‘n ou jagter (nie ‘n ou se naam nie) wat aangrensende ongerepte grond besit, en waarvan ons 2000ha kan gebruik, met die opsie om later dalk te koop.

Alto is beleggers wat 50/50 saam Embondeiro in Mikaia ingekoop het. Mikaia is dus ‘n maatskappy wat gestig is (50% Alto en 50% Lee-groep) wat met osse boer.  Die ooreenkoms tussen Embondeiro en Mikaia is dat Embondeiro jaarliks 300 jong osse aan Mikaia moet verskaf. Mozgado kry dan 30% van die 300 osse se geld. Sodra die 300 jong osse verkoop is aan Mikaia, het Mozgado geen verdere belang by die osse nie.

Ons probeer hieronder verduidelik…

Hoe werk die Mozgado belegging?

Hierdie R5miljoen gaan binne 4 jaar belê word, tot einde 2018.

Dit kom uit op R125,000 per aandeel wat jy besit, wat jou totale belegging sal wees. En dit kom omtrent uit op so 8 of 9 beeste vir jou aandeel wat heeltyd in Mosambiek wei. Permanent. Kapitaal, pappie.

 Winsgewendheid van Mozgado

Die 300 bulletjies maak ons osse en verkoop aan Mikaia volgens die ooreenkoms. Van die 300 verse hou ons die helfte, verkoop die ander helfte, en laat slag dieselfde hoeveelheid koeie as wat ons van die verse terughou. Dus 150 verse terughou, 150 verse verkoop en 150 ouer koeie slag, as ‘n voorbeeld.

Hierdie berekeninge is gedoen uit ‘n konserwatiewe oogpunt, met hope veranderlikes binne die formules, soos kalwers per jaar, vleisprys/kg, uitslaggewig, risiko faktor, ens. Dit sluit ook natuurlik nie in die kapitaalgroei van die bates wat op die plaas is nie. Maar ons glo dat dit ‘n goeie en betroubare syfer is om mee te werk en in gedagte te hou.

Vir interessantheid het ons ‘n bees in die Vrystaat se winsgewendheid ook geprys, wat uitkom op omtrent 6.25% vs. die 12% van Mozgado. Wat net wys dat hierdie wel ‘n goeie en winsgewende belegging is, met nog tonne potensiaal.

Ons hoop dat hierdie brief julle elkeen goed vind, en dat daar dalk ‘n bietjie meer duidelikheid is in die projek waarin jy besig is om te belê. As jy ooit die geleentheid kry om saam Jaap te gaan om te kyk, oorweeg dit sterk. Dis regtig ‘n belewenis om die grootheid van die projek te sien. Plus die bonus van ‘n rooivleis-dieet en die lekker cerveja natuurlik! Maar vat gout pille saam…

Mozgado groete,

 

Alewyn & Phillip

 

 

 

 

 

No Comments

Post a Comment